Die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (Praag), onder leiding van Dan Roodt, gaan na verwagting byna R4,2 miljoen aan die staat verbeur nadat die Suid-Afrikaanse Reserwebank bevind het dat die organisasie valutabeheerregulasies oortree het.
Roodt is deur die Reserwebank uitgewys vir vier gevalle waar die regulasies glo nie nagekom is nie.
Volgens die Reserwebank sluit die betrokke fondse meer as US$121 000 (ongeveer R1,98 miljoen), asook R1,74 miljoen, R443 639 en R10 574 in. Die geld is in verskillende bankrekeninge gehou.
Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het ingevolge die valutabeheerregulasies sekere bevoegdhede aan die goewerneur en adjunkgoewerneurs van die Reserwebank gedelegeer.
Fundi Tshazibana, adjunkgoewerneur van die Reserwebank, het daarna kennis gegee dat die fondse aan die staat verbeur word.
Die Reserwebank kan administratiewe boetes en sanksies oplê wanneer individue of organisasies finansiële wetgewing oortree.
Nadat die koste van ondersoeke en afdwingingsaksies afgetrek is, word die oorblywende geld in die Nasionale Inkomstefonds gestort.
Die Reserwebank hou ook toesig oor die nakoming van die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum (FICA) deur banke en lewensversekeringsmaatskappye.
Indien instellings nie aan die wet voldoen nie, kan die Reserwebank administratiewe strawwe teen hulle instel.
Volgens die Reserwebank word hierdie boetes nie as inkomste in sy eie finansiële state aangeteken nie, omdat die geld direk aan die Nasionale Inkomstefonds oorbetaal word.
Gedurende die 2024/25-boekjaar is administratiewe boetes ter waarde van R20 miljoen namens die staat opgelê. In die vorige boekjaar was die bedrag R1 miljoen.