’n 48-jarige Pakistani is in die Verenigde State tot meer as 27 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan ’n komplot om president Donald Trump en ander Amerikaanse regeringsamptenare te vermoor.
Asif Merchant is Dinsdag in ’n federale hof in Brooklyn tot 330 maande — oftewel 27 jaar en ses maande — gevangenisstraf gevonnis.
Hy is in Maart skuldig bevind aan moord teen betaling en ’n poging om ’n daad van terrorisme oor landsgrense heen te pleeg.
Volgens die Amerikaanse departement van justisie het Merchant tydens sy verhoor erken dat hy vrywillig by Iran se Islamitiese Revolusionêre Wag aangesluit en opleiding ontvang het. Hy is later deur ’n kontakpersoon van die organisasie gewerf.
Die komplot het volgens aanklaers verband gehou met Iran se begeerte om die dood van Qassem Soleimani te wreek.
Soleimani, wat aan die hoof van die Revolusionêre Wag se Quds-mag gestaan het, is in Januarie 2020 in ’n Amerikaanse hommeltuigaanval in Bagdad dood.
Merchant het tydens sy verhoor gesê hy is onder druk geplaas om aan die komplot deel te neem omdat hy vir die veiligheid van sy familie in Iran gevrees het. Hy het ook beweer dat hy verwag het die owerhede sou die plan keer voordat iemand doodgemaak word.
Aanklaers het dié weergawe betwis.
Merchant het gesê geen spesifieke teiken is aanvanklik aan hom opgedra nie, maar dat sy kontakpersoon in Iran drie name genoem het: Trump, voormalige president Joe Biden en voormalige Amerikaanse VN-ambassadeur Nikki Haley.
Hy het ook getuig dat hy geglo het Trump sou uiteindelik die hoofteiken wees.
Merchant het in die VSA met iemand kontak gemaak wat hy gehoop het hom met die plan sou help. Dié persoon het egter die FBI gewaarsku en as informant begin werk.
Merchant het later mense ontmoet wat hy geglo het huurmoordenaars was en $5 000 as ’n aanvanklike betaling aan hulle oorhandig. Hulle was in werklikheid geheime FBI-agente.
Bewyse wat tydens die verhoor voorgelê is, het onder meer internetsoektogte na politieke byeenkomste en die ligging van ’n Trump-saamtrek in New Jersey ingesluit.
Merchant is op 12 Julie 2024 in hegtenis geneem voordat hy die VSA kon verlaat.
Amerikaanse prokureur-generaal Todd Blanche het ná die vonnis gesê die departement van justisie sal nie buitelandse terreurkomplotte teen Amerikaanse leiers duld nie.
Merchant sal na verwagting teen sy skuldigbevinding en vonnis appelleer.