’n Gewone naweekuitstappie het Saterdag in ’n benoude reddingsoperasie ontaard toe ’n pa en sy tienerseun deur sterk aflandige wind op hul roei-ski’s die see ingewaai is.
Die 60-jarige man en sy 16-jarige seun van Observatory het op 14 November vanaf die Oudekraal-piekniekterrein vertrek met die plan om tussen die rotse in beskutte water te roei.
Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), is hulle egter deur sterk windvlae gevang wat van die Twaalf Apostels-bergreeks af see toe gewaai het.
Die wind het albei van die kus af die see ingevee.
Tydens die stryd het die tiener sy roei-ski verlaat en aan sy pa s’n vasgehou. Hoewel hulle op tye albei in die water was, het hulle daarin geslaag om die vaartuig in die rigting van ’n rotsagtige uitsteeksel te stuur.
Hulle het uiteindelik ook dié roei-ski verlaat en op die rotse geklim, waar hulle aan seesproei, sterk deinings en ’n stygende gety blootgestel was.
Omstanders by Lookout Point het die voorval omstreeks 14:52 gesien en onmiddellik alarm gemaak. Hulle het die NSRI deurentyd op hoogte gehou van die pa en seun se ligging terwyl die reddingsoperasie begin is.
Bevan Geyser, stasiebevelvoerder van NSRI Bakoven, sê die reddingsboot Gemini Legend is ontplooi, terwyl die NSRI se Table Bay- en Houtbaai-spanne ook op bystand geplaas is.
Twee NSRI-reddingsswemmers het die water binnegegaan met reddingsboeie en veiligheidstoue.
Die seun is eerste van die rotse af gehelp, waarna sy pa gered is. Albei is beveilig en een vir een van die rotse af na die reddingsboot gebring.
Hulle is daarna na die NSRI se Bakoven-basis geneem, waar hulle vir hipotermie behandel en in komberse toegedraai is.
Die pa het ook geringe snye en kneusplekke opgedoen.
Een van die roei-ski’s is Maandagoggend, 16 November, in die see naby Yzerfontein teruggevind.
Die NSRI het die vinnige optrede van die reddingspan en die waaksaamheid van die omstanders wat hulp ontbied het, geloof.
Die getuies het die pa en seun later by die reddingsbasis ontmoet en hulle terug na hul voertuig by Oudekraal geneem.
Terugspore/Pingbacks