~Deur Francois van Deventer
“Party kulture moet sterf!”[1]
Hierdie woorde sou as uiterste rassisme beskou word indien dit nie was dat Lennox Kalifungwa ’n inheemse Afrika-gebore Zambiër was nie wat in Suid-Afrika grootgeword het nie.
Lennox vertel die verhaal dat hy rou melk moes gaan oplaai by ’n boer in die VSA-platteland waar hulle tans woon.
“Onbewustelik, het ek ‘n soort burokrasie verwag. Ek het dalk ‘n toonbank verwag, ‘n bietjie papierwerk, iemand wat vra vir identifikasie. ‘n Soort proses. En ek het daar aangekom en daar was absoluut niemand nie. Die enigste persoon in sig was ‘n naburige boer wat hom met sy eie sake bemoei het. En ek het dadelik tot die gevolgtrekking gekom dat ek die verkeerde adres moes hê… ek het my vrou gebel… Maar soos dit blyk, was ek presies waar ek moes wees.
En al wat ek moes doen was om deur ‘n sydeur te loop, ‘n yskas te vind, ‘n fles melk te gryp wat ek wou hê, ‘n blokkie te merk met my vrou se naam daarop, die kontant in ‘n oop fles te los, die deur toe te maak, huis toe te ry, en dit was dit. Geen toesig, geen papierwerk, geen kameras, geen kwitansie, geen sekuriteitswag nie.
Luister, ek weet nie waar baie van julle gewoon het nie, maar waar ek vandaan kom, sou dit kwalifiseer as ‘n voorsmakie van die hemel.
As hierdie 9 000 myl weg van daar waar ek vandaan kom, gebeur het, sou die storie heeltemal anders ontvou het… Ek sou begroet word deur hoë betonmure met doringdraad en gebreekte glas. ‘n Sekuriteitswag sou my by die hek voorkeer en vra om my identiteit te verifieer. En sodra ek binne was, sou ek na iemand agter ‘n toonbank verwys word wat, na ‘n onvriendelike groet, betaling in kontant sou eis.
Sy sou dan ‘n laai oopsluit, ‘n stel sleutels haal, ‘n ander kamer oopsluit en die yskas sluit, die melk haal, alles weer sluit en dit vir my oorhandig. Ek sou dan die bottel agterdogtig inspekteer en wonder of ek eintlik die hoeveelheid ontvang het waarvoor ek betaal het Ek sou by die huis kom, die melk vir my vrou gee, wat dan later baie geïrriteerd aankondig dat die melk verdun is.
Die volgende keer wat ek teruggekeer het om die melk te koop, het ek ontdek dat die prys verdubbel het. Die rede waarom die prys verdubbel het, is omdat die regering nou vereis dat melkverskaffers lisensies vir maandelikse inspeksies moet bekom nadat kliënte oor verdunde melk gekla het.
En ook die vorige sekuriteitswag, hy is afgedank omdat hy beide die geld en die melk gesteel het.”
Lennox verbind dan die Christelike Wêreldbeskouing wat in die Amerikaners se hele lewe ingebed geraak het… en hy sien dat dit nie teenwoordig is in die Afrikane se lewens nie. Afrikane dink nie soos Christene nie en doen ook nie soos Christene nie. Hulle kan met hul mond bely dat hulle Christene is, maar hulle harte en hul kultuur is nie. Lennox sê dan dat sulke goddelose kulture dood moet gaan. (Vergelyk ook Charlie Kirk se lesinggesprek: https://youtube.com/shorts/4j0zMF6Uuf0)
Lennox vra dan die gehoor die volgende vraag: “By watter van hierdie twee plekke sou jy liewer melk koop?”
Natuurlik sal ons kies vir die amper paradys in vergelyking met die amperse hel. As ons Orania vergelyk met hierdie verhaal wat Lennox beskryf, dan sien jy dieselfde kenmerke. Ek moet byvoorbeeld my kinders wat kom kuier (hulle woon in Orania) gedurig herinner dat hulle nie die sleutel in die kar kan los nie en dat hulle alles moet sluit en versigtiger moet wees en rondkyk. Vir hulle is die misdadige nuwe SA abnormaal. Oraniërs ervaar so ’n ietsie van Lennox se “voorsmakie van die hemel”.
As jy egter iemand soos Morné Steyn is, sal jy egter kies vir die “hel”. Jy sal dan die Orania-projek afmaak as iets agterlik. Dan sal jy gril vir die Oraniërs wat hul Christelike beskawing wil beskerm. Dan sal jy sê*: “Dis hoekom vashak op ‘geen dwelms, geen leegleers, geen geraas, net kerk’… al wat jy ken is Orania en sy [3000] inwoners; jy ken nie die Afrikaner nie.”*[2]
Hierdie nydige aanmerking is gemik op Orania se keuringskomitee wat funksioneer soos ’n immigrasie-departement. Vir die Morné Steyns van Suid-Afrika sal hulle eerder in ’n samelewing wil bly waar jy vry is om te hoer en remoer soos jy wil. Al beteken dit dat jy in ’n samelewing woon waar 25 000 moorde per jaar plaasvind, waar die belastingkoers onvolhoubaar is, waar die infrastruktuur aan flarde is, waar slaggate en kragonderbrekings alledaags geword het. Waar daar nie meer gefrons word, wanneer die stadsowerheid al die geld gesteel het en water nie meer gesuiwer kan word nie.
Die probleem met die goddelose Morné Steyns is dat hulle die vrugte van ‘n godvresende samelewing wil geniet sonder om die Een wat die geseënde vrugte gee te eer. m.a.w. hulle is eintlik maar net ondankbare misleide parasiete… Lev 26 en Deut 28 maak dit duidelik dat ’n samelewing wat God nie eer nie op die lang termyn uitmekaar sal val.
Christus maak die opmerking dat die wet opgesom kan word as liefde tot die naaste (gebod 5 tot 10) en liefde tot God (gebod 1-4). ‘n Samelewing wat God haat (gebod 1-4) sal dan ook mekaar haat. Hulle sal mekaar doodmaak en van mekaar steel en mekaar allerhande skade berokken… Die twee dele van die wet is vas aan mekaar.
Orania is besig om ’n nuwe samelewing te bou wat God eer. Daar is ander volke in Suid-Afrika wat raaksien dat daar goeie vrugte in Orania aan die ontwikkel is, daarom dat Xhosas, Tswanas, Zoeloes samewerkingsooreenkomste met Orania onderteken. Mag daar nog baie Orania’s opstaan wat die Een wat die voorspoed gee, sal eer. Langtermyn voorspoed en vooruitgang is afhanklik daarvan om Hom te Eer en te leef soos Hy van ons vra.
Voetnote:
[1] “The Failed Experiment of Multiculturalism | Lennox Kalifungwa | ACCS Repairing the Ruins 2026” https://www.youtube.com/watch?v=XPMtXaKPAgg
[2] Morné Steyn wat reageer op Frans de Klerk se Facebook-inskrywing van 18 November 2026