’n 27-jarige vrou van die Noord-Kaap is Woensdag in Augrabies in hegtenis geneem nadat die polisie na bewering dagga en tik ter waarde van sowat R1 800 in ’n doek in haar doeksak gevind het.
Die vrou is op 26 Augustus in hegtenis geneem nadat die polisie op Riemvasmaak inligting oor haar bewegings ontvang het.
Volgens ao. Molefi Shemane, polisiewoordvoerder, was die vrou saam met ’n kind onderweg van Vredesvallei na Augrabies. Die polisie se inligting was dat sy na bewering van plan was om dwelms te koop.
Die polisie op Riemvasmaak het die inligting onmiddellik met hul kollegas op Augrabies gedeel, waarna lede van die twee polisiestasies opgetree het.
Die verdagte is onderskep terwyl sy onderweg was om ’n taxi te haal. Sy het ’n doeksak by haar gehad wat daarna deur die polisie deursoek is.
Volgens Shemane het beamptes tydens die deursoeking dagga en tik met ’n geraamde straatwaarde van R1 800 ontdek wat in ’n doek versteek was.
Die vrou is daarna in hegtenis geneem en by die Augrabies-polisiestasie aangehou.
Sy sal na verwagting binnekort in die Augrabies-landdroshof verskyn op ’n aanklag van die besit van dwelms.
Die ZF Mgcawu-distriksbestuur het die inhegtenisneming verwelkom en die polisiebeamptes van Riemvasmaak en Augrabies geloof vir hul vinnige optrede, doeltreffende uitruil van inligting en samewerking.
Die polisie het ook gemeenskapslede bedank vir hul voortgesette samewerking en vir die verskaffing van waardevolle inligting wat wetstoepassers help om dwelmverwante misdaad te bekamp.