’n Kosbare platinumring wat reeds sowat ’n eeu lank in ’n familie is, is wonderbaarlik tussen sowat 9 000 kg vullis in New York opgespoor nadat dit per ongeluk saam met kombuisafval weggegooi is.
Die ring behoort aan ’n man wat slegs as Victor geïdentifiseer is. Volgens hom het sy oumagrootjie die ring in haar mond versteek toe sy die Sowjetunie in 1989 verlaat het. Dit is later deur die familie van geslag tot geslag oorgedra.
Sowat 20 jaar gelede het Victor die einste ring gebruik om sy vrou, Susanna, om haar hand te vra.
Susanna het die ring elke dag aan haar linkerringvinger gedra, maar dit afgehaal wanneer sy skottelgoed gewas het om te voorkom dat dit beskadig word.
Op 26 Julie het sy ’n kombuistoonbank met ’n handdoek skoongemaak toe sy die platinumring en ’n tweede ring per ongeluk saam met kosreste in ’n vullisdrom gevee het.
Sy het eers die volgende dag besef wat gebeur het. Toe Victor by hul huis in Brooklyn aankom, het hy sy vrou huilend aangetref.
Victor het aanvanklik gedink die familie-erfstuk is vir altyd verlore en het selfs oorweeg om ’n juwelier te vra om ’n replika daarvan te vervaardig. Hy was egter nie bereid om die soektog sonder meer te laat vaar nie.
Die volgende oggend het Victor buite sy woonstelgebou gewag totdat hy Javier Gomez, ’n werknemer van New York se sanitasiediens, kon vra of hy toegang tot die gebou se vullis kon kry.
Gomez het sy bestuurder gekontak en gereël dat Victor die volgende dag by ’n afvaloorlaaistasie in Brooklyn daarna kon gaan soek.
Daar het ’n enorme taak op hom gewag. Sowat 20 000 pond, oftewel ongeveer 9 000 kg, se vullis van sy woonstelgebou en ’n ander gebou het gedurende die voorafgaande week daar opgehoop. Albei geboue is volgens Gomez ongeveer 20 verdiepings hoog.
Toe Victor op 29 Julie by die terrein aankom, was die vullishoop sowat 30 meter lank en het dit hoofsaaklik uit voedselafval, doeke en klere bestaan.
Die reuk van verrotte vis was volgens Victor so sterk dat sy oë getraan het.
Toe hy die enorme vullishoop sien, het die 45-jarige Victor gedink daar is geen kans dat die ring dit kon oorleef het nie.
Mense wat waardevolle besittings in New York se vullisstelsel verloor, kan volgens die stad se departement van sanitasie ’n afspraak maak om daarna te gaan soek. Hulle mag een persoon saamneem om te help, terwyl die departement onder meer handskoene en grawe beskikbaar stel.
Victor se vrou moes werk en hy wou nie sy vriende vra om hom te help met wat hy as ’n “naald-in-’n-hooimied-soektog” beskou het nie.
Sanitasiewerkers help gewoonlik nie met sulke soektogte nie, maar Gomez het gesien dat Victor alleen was en aangebied om hom te help.
Victor kon gelukkig ’n besonder nuttige beskrywing van die betrokke vullissak gee. Dit was ’n wit sak met ’n oranje trekkoord waarin daar ook drie blou hondematjies was wat hul Franse bulhond, Joya, gebruik het.
Die twee mans het die vullishoop tussen hulle verdeel en begin soek.
Ná ongeveer ’n uur, toe hulle na raming deur ’n kwart van die vullis gewerk het, het Gomez ’n wit sak naby die onderkant van die hoop opgemerk.
Hy het die sak oopgeskeur en die drie blou hondematjies daarin gevind.
Toe sien hy die platinumring.
Gomez het vir Victor gefluit, waarna Victor oor die hope vullis na hom gehaas het. Daar was die familie-erfstuk in Gomez se hand.
“Dit was werklik soos ’n wonderwerk,” het Victor gesê.
Maar die soektog was nog nie heeltemal verby nie. Gomez het verder deur aartappelskille in dieselfde sak gegrawe en ook die goue ring gevind wat Susanna saam met die platinumring weggegooi het.
Die New Yorkse departement van sanitasie het die verhaal van die merkwaardige vonds op 7 Augustus op sosiale media gedeel.
Voordat Victor die afvalstasie verlaat het, het hy en Gomez saam vir ’n foto geposeer.
Victor beplan om die platinumring eendag aan sy 15-jarige seun oor te dra. Indien sy seun trou, wil hy ook die foto van hom en Gomez by die troue vertoon – ’n herinnering aan die dag toe ’n familie-erfstuk wat reeds sowat ’n eeu lank in die familie is, tussen duisende kilogram vullis teruggevind is.
Gomez kan boonop ’n uitnodiging verwag