’n O.20-sokkerwedstryd in Brasilië het in chaos geëindig nadat 53 mense met rooikaarte van die veld gestuur is — ’n nuwe wêreldrekord.

Die voorval het plaasgevind tydens die eerste been van die halfeindstryd in die tweede afdeling van die Minas Gerais O.20-kampioenskap tussen Uberlândia en Mamoré. Altesaam 43 spelers, agt lede van die afrigtingspanne en twee Uberlândia-bestuurders is afgejaag.

Die vorige rekord was 36 rooikaarte tydens ’n Argentynse vyfde-afdeling-wedstryd tussen Atlético Claypole en Victoriano Arenas in 2011.

Drie spelers is reeds vroeër in die wedstryd afgestuur voordat ’n groot bakleiery in die tweede helfte uitgebreek het.

Volgens die skeidsregter se verslag het die groot konfrontasie ontstaan nadat Mamoré in bykomende tyd 3–1 voorgeloop het. Mamoré-speler Davi het glo die Uberlândia-bank tydens die doelviering uitgetart.

Uberlândia se doelwagterafrigter, Paulo Sérgio Dias dos Santos, het daarna die veld betree, na Davi gehardloop en hom gestamp. Dit het tot ’n groter bakleiery gelei waarby spelers, afrigtingspersoneel en klubbeamptes betrokke geraak het.

Van die 53 uitsettings het 50 met die bakleiery verband gehou. Die ander drie rooikaarte is vroeër in die wedstryd uitgedeel.

Die chaos het nie net op die veld gebly nie. Volgens plaaslike berigte is die militêre polisie ontbied nadat groot skade by die Parque do Sabiá-stadion aangerig is.

’n Polisieverslag het melding gemaak van 14 gebreekte deure en skade aan wasbakke, krane, toilette, storte, elektriese installasies, meubels en twee borrelbaddens.

Die wedstryd is vroeër in die tweede helfte vir sowat 40 minute onderbreek ná ’n afstuur en ’n konfrontasie met die skeidsregter. Die wedstryd is daarna hervat.

Later, ná die groot bakleiery in bykomende tyd, het die skeidsregter, Fernando Patrick Drosghic Modesto, besluit om die wedstryd te beëindig omdat dit nie veilig was om voort te gaan nie.

Mamoré het die wedstryd uiteindelik 3–1 gewen.

Die voorval het ook gevolge vir die tweede been van die halfeindstryd gehad. Mamoré het weens die groot aantal skorsings slegs sewe spelers beskikbaar gehad.

Uberlândia het daarna besluit om nie die tweede been te speel nie en het Mamoré toegelaat om na die eindstryd deur te dring. Die klub het die besluit as ’n gebaar van sportmanskap beskryf.

Uberlândia het ook gesê interne dissiplinêre stappe is reeds teen betrokkenes gedoen en dat die klub eerder op die derdeplekwedstryd sal fokus.