Johannesburg is deur Time Out as die agtste beste stad ter wêreld vir straatkos aangewys, met kos wat by straatstalletjies, taxi-staanplekke en in woonbuurte verkoop word wat dié internasionale ranglys gehaal het.
Johannesburg het ‘n telling van 56% in Time Out se wêreldranglys vir straatkos vir 2026 behaal. Die lys is volgens die publikasie saamgestel uit ‘n wêreldwye opname onder inwoners van verskillende stede.
Die Goudstad verskyn daarmee op dieselfde ranglys as bekende internasionale kosbestemmings soos Ho Chi Minh-stad, Kuala Lumpur, Mexikostad en Bangkok.
Van die kos wat as kenmerkend van Johannesburg se straatkostoneel beskryf word, sluit kotas, braaivleis, pap en bredies in. Kosstalletjies langs strate en by taxi-staanplekke, asook koswaens en wegneemetes in woonbuurte en townships, vorm deel van dié bedryf.
Aisha Mohamed, hoofbestuurder van Time Out South Africa, sê Johannesburg se straatkos gaan volgens haar oor meer as bloot dit wat op die bord beland.
“Johannesburg se straatkostoneel was nog altyd buitengewoon. Trek ‘n plastiekstoel nader langs ‘n straatverkoper in Johannesburg, en dit gaan selde net oor wat op die bord is,” het Mohamed gesê.
Volgens haar weerspieël dié kos die gemeenskappe waaruit dit kom, asook resepte wat oor geslagte heen ontwikkel het.
Die ranglys kom te midde van ‘n reisneiging waar toeriste volgens die bron toenemend na plaaslike ervarings soek eerder as om net bekende toeristebesienswaardighede te besoek.
Suid-Afrika is reeds bekend vir sy restaurante en wynlandgoedere, maar dié keer is dit Johannesburg se straatkos wat die internasionale beoordelaars se aandag getrek het.