Die voormalige Junior Springbok-kaptein Hanro Liebenberg sal voor die 2026/27-seisoen na die Bulls terugkeer.
Die 30-jarige losvoorspeler het die afgelope sewe jaar vir die Engelse Premierliga-klub Leicester Tigers uitgedraf, waar hy meer as 140 wedstryde gespeel en in 2022 die liga-titel gewen het. Hy het tussen 2015 en 2019 ook vir die Bulls gespeel voordat hy hom in 2019 by Leicester aangesluit het.
Bulls se uitvoerende hoof, Edgar Rathbone, sê Liebenberg se terugkeer na Loftus Versfeld is ’n groot oomblik vir die unie en beskryf hom as ’n wêreldklas-speler wat die Bulls se kultuur en waardes verstaan.
Liebenberg sê dit was een van die moeilikste besluite van sy loopbaan om Leicester te verlaat, maar dat die geleentheid om huis toe te keer en weer die Bulls te verteenwoordig, iets was wat hy nie kon ignoreer nie.
Hy sal amptelik by die Bulls aansluit ná afloop van die 2025/26-seisoen.