Motoriste wat beplan om oor die Paasnaweek te reis, word aangemoedig om hul voertuiglisensieskyfies en bestuurslisensiekaarte voor die einde van Maart te hernu.
Volgens die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) toon Natis-data dat meer as 700 000 voertuiglisensieskyfies en meer as 128 000 bestuurslisensiekaarte landwyd binnekort gaan verval. Gauteng is die provinsie waar die meeste vervallende lisensies aangeteken is.
Die korporasie waarsku dat motoriste wat met vervalde dokumente op die pad is, boetes en ander regsgevolge in die gesig kan staar, veral tydens die besige Paasnaweek wanneer wetstoepassing verskerp word.
Die RTMC se woordvoerder, Simon Zwane, sê voertuiglisensies kan gerieflik aanlyn deur die Natis-platform hernu word, met aflewering wat binne drie tot vyf werksdae geskied.