Veertienjarige Marthella Steenkamp het met alles in haar geveg terwyl haar ouer broer haar vasgepen, haar klere afgeruk en haar verkrag het.
Volgens hofgetuienis het die 15-jarige seun daarna gevrees dat sy die verkragting aan hul ouers sou vertel. Om dit te voorkom, het hy sy pa se .357 Magnum-rewolwer en ‘n .22-geweer uit die kluis gehaal.
Hy het toe na die televisievertrek gegaan en sy ma, Christel (43), en sy pa, Deon (44), geskiet.
Terwyl sy ouers in hul eie bloed gelê het en die televisie steeds in die agtergrond gespeel het, het hy volgens die hof oor hulle gestaan en nog ‘n skoot in die agterkop van elkeen geskiet.
Daarna het hy ook die verskrikte en weerlose Marthella doodgeskiet.
Ná die moorde het hy na die polisiestasie gery en beweer dat die gesin slagoffers van ‘n plaasaanval was.
Dit is die grusame misdade waarvoor die tiener, wat later as die Griekwastad-moordenaar bekend geword het, skuldig bevind is voordat hy tot ‘n effektiewe 20 jaar gevangenisstraf gevonnis is.
Hoewel die voorval meer as ‘n dekade gelede plaasgevind het en hy reeds sowat 12 jaar van sy vonnis uitgedien het, het die saak verlede week weer die nuus gehaal nadat sy parool tersyde gestel is.
Die moorde het op Goeie Vrydag in 2012 op die gesin se plaas, Naauwhoek, in die Noord-Kaap plaasgevind.
Die man, wat nou 29 jaar oud is, is in Maart 2014 skuldig bevind aan die moord op sy ouers en suster.
Omdat hy ten tyde van die misdade minderjarig was, mag sy naam nie bekend gemaak word nie.
Benewens die drie moorde is hy ook skuldig bevind aan verkragting en verydeling van die gereg omdat hy probeer het om die misdade as ‘n plaasaanval voor te stel.
Die Hooggeregshof in Kimberley het hom vyf maande later, toe hy 17 jaar oud was, gevonnis.
In Desember verlede jaar het ‘n paroolraad sy vrylating op parool goedgekeur.
Die Minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, het egter die paroolhersieningsraad versoek om die besluit te hersien.
Daardie besluit is nou omgekeer, wat beteken dat sy vrylating op parool voorlopig nie sal voortgaan nie.