OKLAHOMA CITY – Die Suid-Afrikaanse MMA-vegter Dricus du Plessis keer die naweek terug na die UFC se agthoek wanneer hy die voormalige weltergewigkampioen Kamaru Usman in die hoofgeveg van UFC Fight Night in Oklahoma City aandurf.
Dit sal Du Plessis se eerste geveg wees sedert hy verlede jaar sy UFC-middelgewigtitel aan Khamzat Chimaev afgestaan het.
Du Plessis sê die nederlaag was moeilik om te verwerk, maar hy het dit nou agter hom gelaat en fokus daarop om weer te wen.
Volgens hom het hy en sy afrigters waardevolle lesse uit die titelverlies geleer, en hy glo dit het hom ‘n sterker vegter gemaak.
Du Plessis sê hy voel sterker, is beter voorbereid en gereed om ‘n nuwe weergawe van homself in die agthoek te wys.
Hoewel hy sê hy het groot respek vir Usman en alles wat hy in die sport bereik het, is sy doel eenvoudig: om met ‘n oorwinning terug te keer.
Die hoofgeveg van UFC Fight Night word vroeg Sondagoggend om 04:30 regstreeks op SuperSport uitgesaai.