’n Bomdreigement het die Australiese eerste minister, Anthony Albanese, gisteraand genoop om sy woning te ontruim en vir ’n paar uur elders te bly terwyl owerhede die situasie ondersoek het.
Die dreigement word verbind met geskrewe waarskuwings wat gerig is aan Shen Yun, ’n Chinese dans- en musiekgroep wat in China verbied is. Volgens berigte is lede van die groep aangesê om hul komende vertonings in Australië te kanselleer of die risiko te loop dat plofstof by Albanese se huis sou ontplof.
Die Australiese polisie het bevestig dat hulle op ’n beweerde sekuriteitsvoorval by die eerste minister se woning gereageer het. Ná ’n deeglike ondersoek is geen verdagte voorwerpe of plofstof gevind nie.
Die BBC berig dat Shen Yun aangedui het dat hul optredes in Australië soos beplan sal voortgaan ondanks die dreigemente.
Owerhede ondersoek die oorsprong van die dreigement, terwyl veiligheidsmaatreëls intussen verskerp is.