Die jongste bruto binnelandse produk (BBP)-syfers toon dat die landbou-, bosbou- en visserysektor verlede jaar met 17,4% gegroei het in vergelyking met 2024.
Hierdie sektor het daarmee die sterkste groei in die primêre ekonomie getoon en ’n belangrike bydrae gelewer tot Suid-Afrika se jaarlikse BBP-groei van 1,1%. In die vierde kwartaal het die ekonomie met 0,4% gegroei.
Volgens die landbou-organisasie TLU SA bevestig die syfers dat boere steeds ’n hoeksteen van die land se ekonomiese stabiliteit, voedselsekerheid en ontwikkeling is.
’n Woordvoerder van TLU SA, Caria van der Merwe, sê die jongste data wys dat landbou ’n belangrike bron van ekonomiese waarde bly, ondanks die vele uitdagings waarmee boere daagliks te kampe het.
Van der Merwe meen die sektor se prestasie onderstreep die kritieke rol wat landbou in Suid-Afrika se ekonomie speel, veral in tye van ekonomiese druk.