Dit bly onseker wat die volgende appèl-stap (indien enige) van die ANC behels, ná sy saak voor die Bloemfonteinse Verkiesingshof teen ‘n vorige besluit van die Onafhanklike Verkiesingskommissie gesneuwel het. Dit gaan oor 181 kandidate vir ses munisipaliteite wat nie betyds ingedien is nie.
Al ses munisipaliteite het tans ANC meerderhede. In vier gevalle is die ANC se wyksraadslede betyds ingedien, maar nie sy lys van proporsionele verteenwoordiging raadslede nie:
- uMshwathi, insluitende die geskiedkundige Duitsgestigte dorpie Wartburg, in KwaZulu-Natal,
- Mangaung (insluitende Bloemfontein) in die Vrystaat, en
- twee Oos-Kaapse munisipaliteite,
- Walter Sisulu waaronder Aliwal-Noord, en
- Sondagsriviervallei wat die Addo Olifant Nasionale Park omsluit.
Vir die oorblywende twee Oos-Kaapse munisipaliteite is geen ANC kandidaat tans geregistreer nie, Ingquza Hill (waarbinne onder andere Lusikisiki val), en Port St Johns. Terwyl beide op die oomblik oorweldigende ANC meerderhede het, sal hulle dus van regerende party verwissel tensy ‘n volgende ANC appél slaag. Vir die ander vier munisipaliteite gaan dit interessant wees hoe die ANC vaar met slegs sy wyksraadslede.
Sou wyksraadslede van ander partye ná die verkiesing bedank, oorloop of tot sterwe kom, kan die ANC ‘n tweede kans kry in tussenverkiesings.