Die Amerikaanse president Donald Trump het gesê sy administrasie is in gesprek met sewe lande om te help om die Straat van Hormuz te beveilig te midde van die oorlog tussen die VSA, Israel en Iran. Die belangrike waterweg, waardeur sowat 20% van die wêreld se olie vervoer word, is volgens berigte grootliks vir olietenkskepe gesluit.
Trump meen lande wat afhanklik is van olie uit die Persiese Golf moet help om skeepsverkeer deur die seestraat te beskerm. Hy het gesê hy hoop lande soos China, Frankryk, Japan, Suid-Korea en Brittanje sal deelneem aan ’n moontlike koalisie om skepe te begelei.
Die konflik het wêreldwye energiemarkte geskud en oliepryse tot naby $100 per vat laat styg. Amerikaanse amptenare glo egter die oorlog moontlik binne enkele weke kan eindig.
Iran se minister van buitelandse sake, Abbas Araqchi, het egter gesê Iran is gereed om homself te verdedig en het ontken dat die land vir onderhandelinge gevra het.
“Dit is nie ’n oorlog van oorlewing nie. Ons is stabiel en sterk genoeg,” het Araqchi gesê.
“Ons sien geen rede waarom ons met die Amerikaners moet praat nie, omdat ons reeds met hulle gepraat het toe hulle besluit het om ons aan te val – en dit was die tweede keer.”
Die spanning rondom die seestraat word as ’n ernstige bedreiging vir die wêreldekonomie beskou, aangesien dit een van die belangrikste roetes vir wêreldhandel in olie en vloeibare aardgas is.