Die polisie ondersoek ’n skokkende voorval van beweerde dieremishandeling naby Richmond in die Noord-Kaap nadat video’s die ronde begin doen het wat glo wys hoe swartwildebeeste op ’n uiters wrede wyse doodgemaak word.
Volgens beskikbare inligting het twee swartwildebeeste Saterdag van ’n naburige plaas af afgedwaal en in die Vaalblok-plakkerskamp beland.
Daar word beweer dat inwoners die diere met klippe aangeval het. Nog meer ontstellend is bewerings dat vleis van minstens een van die wildebeeste afgesny is terwyl die dier nog gelewe het.
Die Noord-Kaapse polisie se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies ondersoek die voorval nadat boere in die Richmond-omgewing hulle daarvan verwittig het.
Polisiewoordvoerder kol. Cherelle Ehlers sê die ondersoek is van stapel gestuur nadat berigte ontvang is van beskadigde wildheining en twee swartwildebeeste wat doodgemaak is.
Ondersoekers het die eienaar van die diere opgespoor nadat hulle die spoor van die beskadigde heining gevolg het.
Volgens die polisie het die eienaar aangedui dat die karkasse later aan die gemeenskap beskikbaar gestel is vir vleis.
Hoewel die eienaar aanvanklik nie ’n strafsaak wou open nie, het die polisie ’n ondersoekdossier geregistreer en ondersoekbeamptes is steeds besig om die volle omvang van die voorval te bepaal. Gesprekke word ook gevoer oor die moontlikheid om formele klagte in te dien.
Teen die tyd van publikasie was niemand nog in hegtenis geneem nie.
Die video’s het intussen wyd op sosiale media versprei en groot woede ontlok. Baie mense beskryf die voorval as barbaars en eis dat diegene wat verantwoordelik was, vervolg moet word indien bevind word dat die diere op ‘n onwettige en wrede wyse mishandel en doodgemaak is.