Kaapstad is weer eens aangewys as een van die wêreld se voorste bestemmings vir kosliefhebbers. Die stad het die 11de plek behaal op Time Out se jongste lys van die wêreld se beste kosstede.
Die ranglys word saamgestel op grond van inwoners se terugvoer en die beoordeling van internasionale koskenners. Verskeie faktore word in ag geneem, waaronder die gehalte van kos, pryse, verskeidenheid, innovasie en die algemene eetkultuur van ’n stad.
Hoewel Kaapstad vanjaar nie ’n plek in die top 10 kon verseker nie, bly die stad se kosaanbod hoog aangeslaan. Stede soos Lima, Bangkok, Meksikostad, Londen en Barcelona het vanjaar die voorste plekke ingeneem.
Kaapstad het besonder goed gevaar wat kosgehalte betref. Die stad het die derde hoogste punt ter wêreld vir die gehalte van sy kos behaal. Sowat 93% van inwoners wat aan die opname deelgeneem het, het die stad se restaurante en eetkultuur positief beoordeel.
Volgens Time Out bly Kaapstad se kombinasie van wêreldklas-restaurante, vars seekos, plaaslike geure en kulturele verskeidenheid een van sy grootste aantrekkingskragte.
Die publikasie het onder meer die seekosgeregte by Amura deur Ángel León en die kreatiewe spyskaarte van The Test Kitchen Fledglings uitgesonder as voorbeelde van die stad se hoë standaard.