’n Pa is Maandagoggend met ’n vuurwapen gedreig en van sy voertuig beroof toe hy sy kind by ’n kleuterskool in Newlands West afgelaai het.
Volgens Gareth Naidoo, hoof van KZN VIP Protection Services, het ’n wit Suzuki Swift voor die man stilgehou toe hy die kleuterskool nader.
Twee mans het glo uit die voertuig geklim, vuurwapens op die pa en sy kind gerig en sy silwer Suzuki Swift geëis.
Die pa en sy kind is uit die voertuig gedwing voordat die verdagtes met die Suzuki Swift in die rigting van Inandaweg weggejaag het.
KZN VIP se beheersentrum het kort ná die voorval verskeie noodoproepe van die kleuterskool ontvang en reaksiebeamptes na die toneel gestuur.
Niemand is tydens die voorval beseer nie.
Die gesteelde voertuig was teen die jongste berigte nog nie teruggevind nie.
Vishal Dooki, woordvoerder van die Newlands-gemeenskapspolisiëringsforum, sê kapings het onlangs in die gebied toegeneem.
Die forum waarsku ouers om veral buite skole en kleuterskole waaksaam te wees, aangesien hulle volgens Dooki maklike teikens vir opportunistiese misdaad kan wees.
Dooki beweer ook dat ’n kapingsindikaat moontlik in Newlands en omliggende gebiede bedrywig is.
Volgens hom is ’n wit Hyundai i10 onlangs met verskeie kapings in Newlands, Chatsworth, Phoenix en Reservoir Hills verbind.
Hy sê dié voertuig het opgehou om in die gebied te verskyn nadat besonderhede daarvan wyd op plaaslike misdaadgroepe versprei is.
Die GPF vermoed dat dieselfde groep moontlik verskillende voertuie gebruik wanneer besonderhede oor ’n verdagte voertuig bekend word.
Dooki sê die toename in kapings voor die feestyd is ’n verdere rede waarom motoriste bewus van hul omgewing moet wees, veral wanneer hulle by skole en kleuterskole stilhou.