Meer as 40 000 mense is ontruim nadat ’n giftige chemiese stof uit ’n tenk by ’n lugvaartvervaardigingsaanleg in die VSA begin lek het.
Die tenk in suidelike Kalifornië bevat na raming 7 000 liter metielmetakrilaat, ’n hoogs vlambare en onstabiele stof wat gebruik word in die vervaardiging van plastiek.
Die Orange County-brandweerowerheid (OCFA) het Donderdagmiddag aanvanklik ontruimingsbevele uitgereik vir die gebied rondom die aanleg in Garden Grove nadat berigte ontvang is van ’n temperatuurstyging in die tenk.
Die ontruimingsgebied is sedertdien uitgebrei, terwyl die oorsaak van die lek ondersoek word.
Volgens die OCFA is daar drie tenks by die aanleg, waarvan een se verkoelingstelsel beskadig is.
Die hoof van die OCFA, Craig Covey, het tydens ’n nuuskonferensie Vrydag gesê daar is twee moontlike uitkomste. Die eerste is dat die tenk kan bars en gevaarlike chemikalieë in die omliggende gebied kan versprei.
Die tweede moontlikheid is dat die tenk kan ontplof weens ’n onbeheerde hittereaksie, wat ook die omliggende tenks met brandstof en ander chemikalieë kan raak.
“Dit is nie net ’n voorsorgmaatreël nie,” het Covey gesê. “Hierdie tenk gaan faal. Ons weet net nie wanneer nie. Ons probeer alles moontlik doen om dit te voorkom.”
’n Gevaarlike-stowwe-span werk saam met kenners om die druk in die beskadigde tenk te verlaag en blootstelling aan die chemikalie te beperk.
Die brandweerhoof het gesê die ontruimingsbevele sal van krag bly terwyl owerhede probeer om die lek onder beheer te bring. Hy het ook gesê sy span het daarin geslaag om verdere temperatuurstygings in die beskadigde tenks te voorkom.
Die OCFA het intussen ontruimingsentrums en ’n inligtingshulplyn ingestel.
Amptenare het mense versoek om hulle daarvan te weerhou om voorstelle te maak oor hoe die voorval hanteer moet word.