~Hierdie artikel is deur Gawie Snyman en is geplaas op: Moontlike burgeroorlog in Europa? – Bepeins
In die herfs van 2026 het die strate van Frankryk weer in vlamme opgegaan. Duisende mense – hoofsaaklik jongmense – het betoog oor die stygende lewenskoste, die toestand van skole en die gevoel dat die gewone lewe al hoe minder bekostigbaar word. Wat as vreedsame betogings begin het, het in dele van Parys, Lyon, Marseille, Bordeaux en ander stede in geweld ontaard. Motors is aan die brand gesteek, winkels geplunder, petrolbomme na die polisie gegooi en honderde mense is in hegtenis geneem.
In Barcelona en ander Spaanse stede het soortgelyke woede oor behuising uitgebreek. Jongmense het winkels geplunder, vullisdromme aan die brand gesteek en versperrings opgerig. Hierdie beelde herinner aan vroeëre opstande en laat die vraag opnuut ontstaan: Is Europa stadig maar seker op pad na ’n toestand waarin burgeroorlog of ernstige interne geweld ’n werklikheid kan word?
Een van die duidelikste stemme wat hieroor waarsku, is David Betz, professor in oorlogstudies aan King’s College London. In 2023 het hy die artikel “Civil War Comes to the West” in Military Strategy Magazine gepubliseer. ’n Tweede deel het in 2025 gevolg. Hy het sy standpunt ook verder in onderhoude en podsendings verduidelik. In Oktober 2026 het hy tydens ’n byeenkoms van die European Conservatives and Reformists Group in die Europese Parlement verklaar dat burgeroorlog nou onvermydelik is en dat die gevolge daarvan bloot gemitigeer kan word.
Betz se basiese argument is eenvoudig: Die grootste gevaar vir die veiligheid van Westerse lande kom nie meer van buite nie, maar van binne. Hierdie lande is nie meer stabiele nasies nie, maar eerder ’n versameling van verskillende groepe wat al hoe minder ’n gemeenskaplike toekoms deel. Multikulturalisme het nie die beloofde verryking gebring nie. Dit het eerder gelei tot parallelle samelewings, wantroue en die gevoel onder baie van die inheemse wit bevolking dat hulle stelselmatig op die agtergrond geskuif word.
Hy steun op bestaande navorsing oor burgeroorloë. Volgens hierdie navorsing is die jaarlikse kans op ’n burgeroorlog ongeveer 4 persent in ’n land waar sekere toestande teenwoordig is: diep politieke en kulturele verdeeldheid, ’n ineenstorting van vertroue in die regering, ’n gaping tussen wat mense verwag en wat hulle ontvang, en die teenwoordigheid van identiteitsgroepe wat mekaar as mededingers of vyande beskou.
Oor ’n tydperk van vyf jaar styg hierdie kans tot ongeveer 18,5 persent. As ’n mens aanvaar dat minstens tien Europese lande aan hierdie voorwaardes voldoen, word die kans dat minstens een van hulle binne vyf jaar ernstige interne konflik sal ervaar, baie hoog – in die omgewing van 87 persent of selfs hoër. Betz sonder veral Brittanje (spesifiek Ierland) en Frankryk uit as die lande waar die situasie eerste kan ontplof. Hy waarsku ook dat so ’n konflik na ander lande kan versprei.
Die soort konflik wat hy verwag, sal nie soos ’n klassieke burgeroorlog lyk waarin twee duidelik afgebakende leërs mekaar op die slagveld ontmoet nie. Dit sal eerder ’n “vuil oorlog” wees. Dit kan aanvalle op infrastruktuur insluit, soos elektrisiteit, gas, water en kommunikasie, asook geweld in stede wat al hoe moeiliker beheerbaar raak met ’n toenemende verdeling tussen stad en platteland.
Stede is besonder kwesbaar omdat hulle min kosreserwes het en omdat hul netwerke maklik ontwrig kan word. In Brittanje, sê hy, word gas-infrastruktuur dikwels bloot deur ’n metaalheining beskerm. Hy gebruik verder die term “feral cities” om te verwys na stede waar die staat nie meer effektief kan polisieer om wet en orde af te dwing nie – Birmingham en dele van Londen is voorbeelde wat hy voorhou.
Betz is nie optimisties oor die moontlikheid van ’n politieke oplossing nie. Volgens hom het die politieke elites ’n post-nasionale ingesteldheid ontwikkel. Hulle stel globale mobiliteit en diversiteit bo die belange en identiteit van die meerderheidsbevolking. Hy stel dit selfs harder: hy meen dat die politieke elites eintlik hul bevolking as agterlik beskou en hul nasionale aspirasies as ongewens en skadelik sien. Addisioneel hiertoe – is meeste van die tradisionele Westerse lande, insluitend die VSA, tot hul ore toe in die skuld, wat die staat se vermoë om die burgery volhoubaar met welsynprogramme te bedien aan bande lê. Namate vlakke van dienslewering struikel, sal konflik toeneem.
Pogings om hierdie proses te stuit – deur partye soos Reform in Brittanje, die AfD in Duitsland of die Rassemblement National in Frankryk – word volgens hom deur regstappe en ander maatreëls teengewerk. Die geleentheid om die rigting te verander, is volgens hom reeds verby. Die taak is nou om die skade te beperk. Sy uitspraak in Oktober by die ECR-groep bevestig hierdie standpunt: voorkoming is nie meer moontlik nie; slegs die versagting van die gevolge bly oor.
Hierdie standpunt is egter nie verhewe bo kritiek nie. Een van die kenners wat ook hierdie omstandighede beoordeel, is Heinrich Matthee, buitengewone professor aan die Noordwes-Universiteit en kenner van geopolitiek, konflikstudies en identiteitspolitiek. In sy artikel “Politieke oorgangskrisis en basuine van burger-oorlog: ’n vergelyking tussen Frankryk en die VSA” (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Desember 2025) ondersoek hy dieselfde verskynsels, maar kom hy tot ’n meer genuanseerde gevolgtrekking.
Hy erken dat Frankryk (en die VSA) deur ’n politieke oorgangskrisis gaan. Daar is diep verdeeldheid, ’n skerp afname in vertroue in instellings, massamigrasie, demografiese verandering en ’n gevoel onder groot dele van die bevolking dat kulturele en demografiese verskuiwings ’n werklikheid geword het.
Meningsopnames toon dat ’n beduidende persentasie Franse mense ’n burgeroorlog as ’n moontlikheid beskou. Islamistiese ekstremisme, stedelike opstande en aanvalle op mense en groepe op grond van hul kultuur het politieke geweld al meer genormaliseer. In die VSA is daar soortgelyke tekens, waaronder polarisasie, demografiese verskuiwing en ’n afname in vertroue ná 2020.
Matthee stem saam dat hierdie omstandighede ooreenstem met bestaande teorieë oor konflik. Dit gebeur onder meer wanneer een groep die ekologiese nis van ’n ander groep betree, wanneer groepe voel dat hulle benadeel word, of wanneer ’n groep wat voorheen ’n dominante posisie beklee het, sy status verloor.
Hy waarsku egter uitdruklik teen ’n deterministiese benadering. “In teenstelling met wat David Betz aanvoer,” skryf hy, “is ’n burgeroorlog egter nie onvermydelik nie.”
Daar is nog nie georganiseerde gewapende groepe wat die soewereiniteit van die staat betwis nie. Die uiteindelike verloop sal afhang van wat politieke rolspelers doen of nalaat om te doen, hoe ander daarop reageer en watter onvoorsiene gebeure plaasvind.
Geweld sal waarskynlik beperk bly tot bepaalde gebiede en vorme, soos opstande, sabotasie en militêre optrede deur burgermagte, eerder as om in ’n volskaalse burgeroorlog te ontaard. Regerings sal so ’n situasie waarskynlik ook nie as ’n burgeroorlog erken nie.
Matthee se artikel is in 2025 geskryf, dus voor die opstande van die herfs van 2026 in Frankryk en Spanje. Sy argument handel daarom oor die breër strukturele omstandighede en die feit dat die toekoms nie vooraf bepaal is nie, eerder as oor hierdie spesifieke gebeure.
Die toestande wat hy en Betz beskryf, is egter werklik en bly relevant. Vertroue in instellings is laag. Die Edelman Trust Barometer van 2026 toon dat ontwikkelde lande soos Frankryk, Duitsland en die Verenigde Koninkryk onderaan die ranglys verskyn. Mense is al hoe minder bereid om ander met verskillende waardes of agtergronde te vertrou.
Die onlangse opstande is ’n teken van hierdie groeiende frustrasie. Terselfdertyd beteken hoë spanning nie noodwendig dat ’n land op pad is na ’n burgeroorlog nie. Die oorgang van hoë spanning na burgeroorlog is nie outomaties nie.
Die verskil tussen Betz en Matthee is dus nie dat die een die probleme ontken en die ander dit erken nie. Albei sien die afname in sosiale samehorigheid, die gevolge van vinnige demografiese verandering sonder suksesvolle integrasie, en die risiko’s wat ontstaan wanneer politieke elites van die gewone bevolking vervreem raak.
Betz is meer geneig om die uiteindelike uitkoms as byna onvermydelik te beskou en fokus op die strategiese logika van stelselontwrigting. Matthee beklemtoon daarenteen dat die verloop van die proses nie vooraf bepaal is nie, maar van mense se keuses afhang. Volgens hom is plaaslike en beperkte geweld ’n waarskynliker uitkoms as ’n klassieke burgeroorlog.
Vir Suid-Afrikaners is hierdie debat nie ver verwyderd van ons eie werklikheid nie. Ons het self ervaring van diep verdeeldheid, migrasie, stedelike geweld en ’n staat wat nie daarin slaag om wet en orde te handhaaf nie. Die opstande in Frankryk en Spanje herinner ons daaraan hoe vinnig frustrasie oor behuising, dienste en ekonomiese druk in straatgeweld kan ontaard.
Die vraag wat oorbly, is of die huidige politieke rolspelers in Europa gaan doen wat nodig is om burgeroorlog te voorkom en die omstandighede te bestuur op die manier wat Matthee as moontlik beskou. Dit sal vereis dat politieke elites weer in voeling met hulle burgery se bekommernisse kom, beleid verander, vertroue herstel en die grootste drukpunte aangespreek word.
Of is Europa se transnasionale elites eerder besig om die vasteland in die rigting van verdere verdeeldheid en moontlike geweld te stuur?
Die opstande van 2026 is nie ’n burgeroorlog nie, maar dit maak die keuses wat Europa in die komende jare sal moet uitoefen des te meer beslissend.
~Hierdie artikel is deur Gawie Snyman en is geplaas op: Moontlike burgeroorlog in Europa? – Bepeins