Twee jaar nadat Shawn Pretorius (47) en Ilonka Craucamp (40) op Kersdag 2023 in Mbombela doodgeskiet is, sê Shawn se ma, Peggy (70), sy leef steeds met onbeantwoorde vrae – en stuur elke dag ’n WhatsApp-boodskap na haar seun se foon met die woorde: “Vertel vir hom alles.”
Shawn en Ilonka se liggame is destyds in ’n huis in Laserstraat in die Steiltes-woonbuurt aangetref. Shawn is deur die arm, been en sy gesig geskiet, en Ilonka in die agterkop. Die diefwering aan die agterkant van die huis was oopgebuig, wat destyds vrae oor die aard van die aanval laat ontstaan het.
Peggy, wat al 24 jaar in Christchurch in Nieu-Seeland woon, het gesê sy kan steeds nie vrede maak met wat gebeur het nie – veral omdat sy meen die saak is nooit behoorlik ondersoek nie. Sy vertel dat sy en haar man, Piet, en hul ander seun, Jaco, wat ook in Christchurch woon, elke Kersfees probeer saam wees, maar dat die verlies die familie permanent verander het.
Volgens Ilonka se man, Jaco Craucamp, was Shawn en Ilonka twaalf jaar voor die moorde in ’n verhouding. Hoewel die Craucamps later versoen en weer getrou het, het berigte aangedui dat die liefde tussen Shawn en Ilonka weer ’n paar maande voor die moorde opgevlam het.
Peggy sê sy wonder soms of Ilonka moontlik die teiken was. Sy meen dit het nie gelyk soos ’n gewone huisroof nie, omdat daar volgens haar net twee selfone uit die huis verdwyn het, terwyl ander waardevolle items, insluitend geskenke op die tafel, onaangeraak was. Sy voeg by dat Ilonka glo R27 000 van haar Luvit-winkel in Hoedspruit weg gehad het – geld wat sy vermoed Ilonka na die bank wou neem.
’n Voormalige bedryfshoof van Bossies Community Justice, Albert Greyvenstein, het onlangs gesê daar was destyds goed agtergelaat op die toneel, insluitend ’n koeël wat in ’n matras vasgeslaan het. Hy meen die ondersoek kon verder gevorder het indien daar vroeër meer aandag aan forensiese werk gegee is.
Peggy beweer daar was aanvanklik geen vingerafdrukke nie, buiten een op ’n moersleutel wat eers twee dae later gevind is. Volgens die polisie is die vingerafdruk nie dié van ’n Suid-Afrikaanse burger nie. Sy sê Ilonka se vuurwapen is ook eers vyf dae ná die moorde in ’n kluis in haar huis in Hoedspruit gevind.
Die dag toe die liggame ontdek is, het Peggy nog om 06:30 ’n boodskap aan Shawn gestuur – maar hy het nooit daarop gereageer nie. Later het sy die tyding ontvang, wat sy sê ’n oomblik is wat sy nooit sal vergeet nie.
Die familie het drie maande gelede weer Shawn se graf besoek en blomme neergelê. Peggy sê hulle het reeds groot koste aangegaan om na Suid-Afrika te reis en hoop steeds dat die waarheid sal uitkom. Intussen sê die polisie ’n woordvoerder, lt.kol. Jabu Ndubane, kommentaar oor enige moontlike vordering sal volg sodra dit ontvang word.
Vir Peggy en haar familie bly die seer egter elke dag nuut – veral wanneer Kersfees weer aanbreek.