’n Jong boer van Bothaville, wat onlangs verloof geraak het, is Saterdagaand oorlede in ’n motorongeluk – vyf jaar nadat sy pa in ’n soortgelyke tragedie sy lewe verloor het.
David Theron (25) het vermoedelik aan die slaap geraak terwyl hy met sy bakkie gery het, sowat vyf kilometer van sy familieplaas, Rooigom. Die voertuig het van die pad af beweeg en teen ’n boom gebots. Hy was vroeër die aand saam met vriende in die dorp, waar hulle saam geëet het, en was op pad terug huis toe toe die ongeluk gebeur het.
Sy verloofde, Cléone Jansen van Rensburg, ’n onderwyseres, was op daardie stadium by ’n skoolgeleentheid.
Volgens Theron se ouer suster, Nicola Herbst, het die bakkie ná die botsing aan die brand geslaan. Die familie is diep geraak deur die verlies, wat ’n tweede groot tragedie in hul lewens is. Sy pa, Francois Theron, is vyf jaar gelede in ’n motorfietsongeluk buite Bothaville oorlede.
Herbst het haar broer beskryf as ’n onselfsugtige mens wat altyd bereid was om ander te help. “Hy het nooit stilgestaan by sy eie uitdagings nie – sy fokus was altyd op hoe hy iemand anders kon bystaan,” het sy gesê.
Theron het aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom gestudeer, maar het sy studies kort voor voltooiing gestaak om die familieplaas oor te neem. Reeds op 21-jarige ouderdom het hy die verantwoordelikheid van die boerdery op hom geneem en hom toegespits op veeboerdery en gewasverbouing. Hy was bekend as ’n hardwerkende en nederige jong man met ’n sterk verbintenis tot sy land.
Hy en Jansen van Rensburg het hul verlowing vroeër hierdie maand op die plaas gevier en planne gemaak om later vanjaar te trou.
Vriende en familie onthou hom as ’n steunpilaar en iemand wat altyd beskermend teenoor sy geliefdes opgetree het. Sy lewe is gekenmerk deur diensbaarheid en opoffering.
Hy word oorleef deur sy ma, Elaine Theron, sy susters, Madelie Crous en Nicola Herbst, asook sy verloofde.
Die begrafnis vind op 23 April om 09:00 op die plaas Rooigom plaas. ’n Gedenkdiens sal later dieselfde oggend om 11:00 in die NG kerk Meyerhof in Bothaville gehou word.