Graan SA en ’n groep boere het hul stryd teen die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) se enkelverwysingspuntmodel verskerp en eis ’n billiker en deursigtiger stelsel vir die bepaling van graanpryse.
Graan SA se leierskap, lede en boere het op Donderdag 13 Augustus in Sandton opgeruk en ’n memorandum aan Valdene Reddy, uitvoerende hoof van die JSE, oorhandig. ’n Dringende hofaansoek teen die besluit is ook vroeër dieselfde dag aan die JSE beteken.
’n Versoekskrif wat binne vier dae 960 handtekeninge gekry het, vorm deel van Graan SA se optrede. Die organisasie vra dat die JSE ’n deursigtige en bewysgegronde hersiening onderneem en uiteindelik ’n billike en doeltreffende prysontdekkingstelsel instel.
“Ons doelwit bly baie duidelik: ’n geloofwaardige, deursigtige en doeltreffende prysontdekkingsmeganisme wat vir die mark as geheel werk,” het dr. Tobias Doyer, uitvoerende hoof van Graan SA, gesê.
‘Doring in die vlees van boere’
Die geskil draai om die manier waarop vervoerkoste binne die graanmark verreken word.
Richard Krige, voorsitter van Graan SA, sê die enkelverwysingspunt-differensiaal is reeds lank ’n “doring in die vlees” van boere. Randfontein word histories as die enkele verwysingspunt gebruik, hoewel graan nie noodwendig daarheen vervoer word nie.
Krige het die Vrystaat se Mieliedriehoek en die Wes-Kaap as voorbeelde gebruik. Graan wat in dié gebiede geproduseer word, kan volgens hom nader aan die produksiegebied gemaal en verbruik word, maar ’n teoretiese vervoerdifferensiaal word steeds van die produsent se prys afgetrek.
Graan SA bevraagteken daarom waarom produsente en verbruikers vir ’n vervoerdifferensiaal moet betaal wanneer die produk nie werklik na die historiese verwysingspunt vervoer word nie.
Pieter-Albert Botha, ’n graanboer van Bultfontein, sê dié stelsel lei volgens hom tot ondoeltreffendheid.
“Boere is die verloorders as gevolg van dié ondoeltreffendheid in die mark. Dit reflekteer ook in die voedselpryse,” het Botha gesê.
Alternatiewe model reeds getoets
Graan SA sê daar word reeds jare oor ’n alternatief onderhandel. ’n Tegniese komitee en akademici is betrek om ’n veranderlike verwysingspuntmodel te ontwikkel, wat in samewerking met die JSE vir ’n toetsfase van twee jaar ingestel is.
Volgens Krige is daar ná die twee jaar besluit om na die enkelverwysingspunt terug te keer sonder dat die tegniese komitee weer byeengeroep is. Hy voer ook aan dat voldoende data nie by verskillende belanghebbendes ingewin is om die doeltreffendheid van die alternatiewe model behoorlik te ondersoek nie.
JSE: ‘Ons is hier om te luister’
Reddy het ontvangs van die memorandum en hofaansoek erken en gesê die JSE besef dat die kwessie ernstige kommer in die landbougemeenskap wek.
Volgens haar word geen besluit oor die differensiaal ligtelik of in isolasie geneem nie, aangesien verskeie belanghebbendes geraak word.
“Ons is hier om te luister,” het sy gesê.
Vir boere wat aan die optog deelgeneem het, is die kwessie egter ’n praktiese probleem wat hul ondernemings raak.
Jacques van der Merwe, wat naby Bothaville in die Vrystaat boer, sê nie al die graan uit hul gebied gaan na Randfontein nie. Tog word ’n vervoerdifferensiaal volgens hom van produsente afgetrek asof hulle hul graan daar lewer.
Graan SA hou vol dat elke deelnemer in die waardeketting wins moet kan maak, maar dat dit billik oor die mark versprei moet wees. Volgens Krige word die koste van die huidige ondoeltreffendheid uiteindelik deur die produsent én die verbruiker gedra.