’n Diamant ter waarde van sowat $300 000 wat in 2004 aan die voorkant van ’n Formule 1-motor vasgemaak is, het ná ’n ongeluk tydens die Monaco Grand Prix spoorloos verdwyn — en is 22 jaar later steeds nie gevind nie.

Die 1,4 karaat wit diamant was een van twee edelstene wat deur Steinmetz verskaf en aan Jaguar Racing se motors geheg is as deel van ’n bemarkingsveldtog vir die rolprent Ocean’s Twelve. Mark Webber en die nuweling Christian Klien het elk met ’n diamant op die neus van hul Jaguar R5 weggespring.

Die plan was eenvoudig: gebruik die glans van Monaco, Hollywood en diamante om aandag op die span te vestig.

Jaguar het destyds gesukkel om sterk uitslae in Formule 1 te behaal, en 2004 sou uiteindelik sy laaste seisoen in die sport wees. George Clooney, Brad Pitt en Matt Damon was ook deel van die Ocean’s Twelve-promosie rondom die wedren.

Maar die bemarkingsfoefie het reeds in die eerste ronde skeefgeloop.

Klien, wat van die 14de plek weggespring het, het op die eerste ronde ná kontak met ’n ander motor by die Loews-haarnaalddraai teen die versperring gebots.

Hy is ongedeerd, maar sy wedren was verby.

Die beskadigde motor is van die baan verwyder en het eers later na die Jaguar-motorhuis teruggekeer.

Teen daardie tyd was die diamant weg.

Die span het daarna gesoek, maar geen spoor daarvan kon gevind word nie. Die edelsteen is tot vandag toe nog nie teruggevind nie.

Verskeie teorieë het sedertdien ontstaan. Die diamant kon tydens die botsing losgekom en tussen die puin beland het, in ’n drein afgespoel het, of deur iemand langs die baan opgetel gewees het.

Daar was selfs bespiegeling dat ’n replika eerder as die regte diamant op die motor was, maar Nav Sidhu, wat by Jaguar se promosie betrokke was, het dié teorie ontken.

Ironies genoeg het die verdwyning van die diamant Jaguar uiteindelik selfs meer publisiteit besorg as wat die oorspronklike veldtog waarskynlik sou gehad het.

Meer as twee dekades later bly een vraag egter onbeantwoord: wat het van die diamant geword?