Die historiese passasierskip SS United States, wat eens as die vinnigste passasierskip ter wêreld bekend gestaan het en langer as die Titanic is, is Woensdag doelbewus aan die kus van Florida gesink om die wêreld se grootste kunsmatige rif te vorm.
Die 990 voet lange skip het ná byna drie dekades by ’n hawe in Philadelphia uiteindelik sy laaste reis voltooi. Dit is verlede jaar na Mobile, Alabama, verskuif, waar dit skoongemaak en voorberei is voordat dit na die waters naby Destin, Florida, geneem is.
Die skip is sonder plofstof gesink. Strategiese openinge is in die romp gemaak sodat water die vaartuig geleidelik kon vul en dit beheersd op die seebodem kon gaan lê.
Die SS United States lê nou in water van ongeveer 55 meter diep. Die boonste dele van die skip is vlak genoeg om deur ontspanningsduikers bereik te word, terwyl dieper dele meer geskik is vir ervare tegniese duikers.
Die nuwe rif moet mettertyd ’n habitat vir mariene lewe word en is ook bedoel om duikers en hengelaars na die gebied te lok. Wetenskaplikes beplan om die terrein te gebruik om te bestudeer hoe mariene organismes groot kunsmatige strukture koloniseer.
Die SS United States het in 1952 sy nooiensvaart onderneem en op dié reis ’n transatlantiese spoedrekord opgestel. Die rekord vir ’n passasierskip staan steeds.
Die skip het 800 keer die Atlantiese Oseaan oorgesteek en meer as ’n miljoen passasiers vervoer. Onder hulle was presidente, koninklikes en bekende kunstenaars en akteurs.
Harry Truman, Dwight Eisenhower en John F. Kennedy was van die Amerikaanse presidente wat aan boord gereis het. ’n Jong Bill Clinton het ook die Atlantiese Oseaan op die skip oorgesteek. Bekendes soos Walt Disney, Salvador Dalí en Cary Grant was ook onder die passasiers.
Nadat die skip in 1969 uit diens gestel is, het verskeie planne om dit as ’n museum, hotel of ander toeriste-aantreklikheid te bewaar misluk. Dit het uiteindelik vanaf 1996 vir dekades in Philadelphia gestaan.
Okaloosa County in Florida het die skip in 2024 vir sowat $1 miljoen gekoop met die doel om dit in ’n kunsmatige rif te omskep. Volgens AP het die uiteindelike projekkoste sowat $13,5 miljoen beloop.
Hoewel pogings om die skip self bo water te bewaar onsuksesvol was, word ’n museum op land in die Destin-Fort Walton Beach-gebied beplan. Van die skip se groot historiese onderdele, waaronder sy skoorstene en radarmas, is vir dié museum bewaar.
Susan Gibbs, president van die SS United States Conservancy en kleindogter van een van die skip se ontwerpers, sê sy is bly dat die verhaal van die skip op ’n ander manier sal voortleef.
Terugspore/Pingbacks