’n Reeks uiters gewelddadige plaasaanvalle binne minder as ’n week het opnuut kommer laat ontstaan oor die vlak van wreedheid waarmee slagoffers tydens sulke aanvalle gemartel en aangerand word.
In die jongste voorval is ’n bejaarde egpaar Sondagaand, 1 November, op hul wildsplaas by Broederstroom aangeval. Les Brett (67) en sy vrou, Natasha (68), is volgens ’n familievriend deur drie gewapende mans oorval en ure lank gemartel terwyl die aanvallers die sleutels van hul kluis geëis het.
Warren Geddes, ’n familievriend van Les en Natasha Brett, het aan Rekord gesê dat toe Les aanvanklik geweier het om die kluissleutels oor te gee, die aanvallers glo met ’n boutsnyer aan Natasha se tepels begin sny het en haar herhaaldelik met verkragting gedreig het. Volgens Geddes het hulle eers opgehou nadat Les die sleutels oorhandig het.
Les is na bewering ook gesteek en met ’n AK-47 in die mond gedwing, wat beserings in sy mond veroorsaak het. Hy het verder ernstige kniebeserings opgedoen.
Paramedici wat op die toneel was, het die beserings as grusaam beskryf en gesê hulle voel nie dit is hul plek om die volle omvang daarvan bekend te maak nie.
Die polisie het intussen bevestig dat sewe gelisensieerde vuurwapens van verskillende kalibers en ammunisie gesteel is. Twee selfone, ’n skootrekenaar, kontant en ander persoonlike besittings is ook geneem.
Die polisie het ook bevestig dat drie mans die woning binnegegaan en toegang tot die kluis verkry het. Die meer ernstige besonderhede oor die beweerde marteling kom egter hoofsaaklik van die egpaar se familievriend en ’n private veiligheidsmaatskappy.
Die aanval volg slegs enkele dae nadat die 50-jarige beesboer Donovan Marx op 28 Oktober op sy plaas by Syferfontein tussen Ventersdorp en Potchefstroom aangeval is.
Marx is geskiet, gesteek, geslaan en gemartel. Sy aanvallers het ook albei sy ore afgesny. Hy is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem.
Sy familie het later gesê dokters kon nie sy ore chirurgies red nie. ’n Koeël het deur een van sy niere beweeg en ’n gedeelte van sy dikderm moes weens sy beserings verwyder word.
Vyf verdagtes is daarna in verband met die aanval aangekeer. Vier van hulle het op 3 November in die Ventersdorpse landdroshof verskyn op aanklagte wat onder meer poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, aanranding, die besit van ongelisensieerde vuurwapens, die onwettige besit van ammunisie en die rig van ’n vuurwapen insluit.
’n Vyfde verdagte sal na verwagting as ’n staatsgetuie optree.
Nog ’n gewelddadige aanval het op 27 Oktober by Vasfontein naby Hammanskraal plaasgevind.
Volgens die polisie het drie mans by ’n woning ingebreek, ’n skoot afgevuur en die huiseienaar op sy voorkop geslaan voordat hulle hom gedwing het om sy kluis oop te maak. ’n Plaaslike buurtwag en gemeenskapspolisiëringsforum het beweer dat die man ook herhaaldelik met ’n koevoet teen die kop, nek en skouers geslaan is.
Die jongste aanvalle laat egter weer die vraag ontstaan waarom slagoffers in sommige plaasaanvalle nie net beroof nie, maar ook gemartel en ernstig vermink word.