~Deur DwarsDoring
Suid-Afrika se polisie het gedurende die 2025/26-boekjaar byna 239 000 DNA-profiele gegenereer, maar slegs 3 471 daarvan is binne 30 dae voltooi. Intussen staan duur laboratoriumtoerusting ongebruik omdat noodsaaklike verbruiksgoedere ontbreek. Die misdadiger laat sy spore agter, die wetenskap kan help om hom vas te trek, maar iewers tussen die laboratorium en die verkrygingsafdeling gaan die geregtigheid verlore.
Daar was ‘n tyd toe ‘n speurder met ‘n vergrootglas, ‘n notaboek en ‘n goeie paar skoene misdadigers moes opspoor.
Vandag beskik ons oor DNA-tegnologie wat ‘n verdagte aan ‘n misdaadtoneel kan verbind, verskillende misdade met mekaar kan koppel en selfs onskuldige mense van verdenking kan bevry. Dis merkwaardige tegnologie.
Ongelukkig het niemand blykbaar aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens verduidelik dat die masjiene ook verbruiksgoedere nodig het om te werk nie.
Volgens inligting wat in Oktober aan die Parlement voorgelê is, het die polisie se forensiese laboratoriums gedurende die 2025/26-boekjaar 238 707 DNS-profiele gegenereer.
Slegs 3 471 is binne die voorgeskrewe 30 dae voltooi. Dit beteken dat ongeveer 98,5% buite die tydsraamwerk afgehandel is.
Nou kan ‘n mens seker redeneer dat geduld ‘n deug is. Maar probeer dit verduidelik aan ‘n gesin wat op forensiese getuienis wag nadat ‘n geliefde vermoor is.
Miljoene se toerusting, maar nie die regte buisies nie
Die Ouditeur-generaal het tydens parlementêre verrigtinge in Oktober ernstige tekortkominge by die polisie se forensiese laboratoriums uitgewys. Onder meer staan sekere StarPlus-DNS-isolasiemasjiene ongebruik omdat die nodige buisies nie beskikbaar is nie.
Ander probleme sluit vervalde kontrakte, verouderde rekenaartoerusting en onvoldoende instandhoudingsreëlings in.
Dink net daaraan. Die staat koop gesofistikeerde toerusting waarmee misdade opgelos kan word, maar die proses kom tot stilstand omdat die nodige voorrade nie betyds aangekoop word nie.
Dit is soos ‘n boer wat ‘n splinternuwe trekker koop, maar vergeet om diesel te bestel. Net met die verskil dat ‘n misdadiger moontlik wegkom terwyl die trekker stilstaan.
Die polisie se forensiese wetenskapafdeling het volgens die Ouditeur-generaal sy volle begroting van ongeveer R1,7 miljard bestee, maar net sowat ‘n derde van sy prestasieteikens bereik.
‘n Mens sou verwag dat sulke syfers ‘n onmiddellike bestuurskrisis veroorsaak. In Suid-Afrika veroorsaak dit meestal eers ‘n vergadering.
Die agterstand het ‘n eie geskiedenis
Die probleme is nie nuut nie. Reeds in Maart 2025 het die Parlement se polisiekomitee gewaarsku oor ‘n DNS-agterstand van meer as 140 000 gevalle.
In Julie vanjaar het die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, bevestig dat die laboratoriums byna 299 000 DNS-monsterinskrywings op hande gehad het, waarvan ongeveer 228 000 reeds die toepaslike verwerkingstydperk oorskry het.
Die syfers verteenwoordig nie noodwendig dieselfde aantal misdaadsake of slagoffers nie. Een ondersoek kan verskeie monsters en profiele behels.
Maar dit verander nie die omvang van die probleem nie. Sommige monsters het volgens die gerapporteerde gegewens gemiddeld ongeveer 800 dae buite die verwerkingstydperk gewag. Meer as twee jaar.
Teen daardie tyd kan ‘n verdagte al verhuis, weer oortree of selfs dood wees, terwyl die bewysstuk nog op sy beurt wag.
Dit beteken nie dat elke vertraagde monster noodwendig ‘n skuldigbevinding sou oplewer nie. DNA is een deel van ‘n groter ondersoek.
Maar wanneer hierdie deel nie behoorlik funksioneer nie, word speurders en aanklaers se werk aansienlik moeiliker.
Die geld is daar, maar die bestuur ontbreek
Die regering het in Oktober ‘n bykomende R186 miljoen vir forensiese kapasiteit aangekondig. Dit kan help.
Maar geld alleen gaan nie die probleem oplos wanneer kontrakte verval, toerusting ongebruik staan en verkrygingsprosesse nie behoorlik funksioneer nie. Die Parlement het ook kommer uitgespreek oor die polisie se breër speurvermoë.
Volgens die Ouditeur-generaal is die volle begroting van ongeveer R15,5 miljard vir speurdienste bestee, terwyl net 63% van die prestasieteikens bereik is. Die probleem is dus nie bloot dat die polisie te min geld ontvang nie. Dit is ook dat beskikbare hulpbronne nie konsekwent in doeltreffende ondersoeke omskep word nie.
Daar is natuurlik bekwame, toegewyde speurders en forensiese deskundiges wat onder moeilike omstandighede werk. Hulle verdien beter ondersteuning as stukkende stelsels en administratiewe verskonings.
Geregtigheid kan nie in ‘n stoorkamer wag nie
Vir gewone Suid-Afrikaners is hierdie nie ‘n tegniese debat oor laboratoriumbestuur nie. Dit raak die vermoë van die strafregstelsel om moordenaars, verkragters en ander ernstige misdadigers aan hul dade te verbind. Dit raak ook onskuldige verdagtes wat moontlik deur tydige forensiese resultate uitgesluit kan word.
Die oplossing vereis werkende toerusting, betroubare voorraadbestuur, bevoegde personeel en meetbare verwerkingstye.
Daar moet ook duidelike aanspreeklikheid wees wanneer bestuursversuim ondersoeke onnodig vertraag. Want ‘n land kan nie aanhou om harder strawwe en strenger wetstoepassing te belowe terwyl die basiese bewysketting sukkel om te funksioneer nie.
Die misdadiger hoef nie noodwendig slimmer as die polisie te wees nie. Soms moet hy bloot hoop die verkrygingsafdeling bestel nie betyds die regte buisies nie.
En dit, liewe leser, is dalk die bitterste ironie van alles. Ons het die wetenskap om misdadigers vas te trek. Nou kort ons net ‘n staat wat die wetenskap kan laat werk.