Die Good-party sê vanjaar se begrotingsrede het geen tasbare uitkomste vir arm en kwesbare Suid-Afrikaners opgelewer nie.
Die party het sy teleurstelling uitgespreek nadat die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, nie die implementering van ’n basiese maatskaplike of inkomstetoelaag aangekondig het nie. Good voer aan dat so ’n toelaag noodsaaklik is om die groeiende armoede- en werkloosheidskrisis in die land aan te spreek.
Die party pleit reeds die afgelope paar jaar vir die instelling van ’n basiese inkomstetoelaag as ’n permanente maatreël om die mees kwesbare mense te ondersteun.
Good se Sekretaris-Generaal, Brett Herron, sê ’n basiese inkomstetoelaag moet nie as liefdadigheid beskou word nie, maar as ’n belegging in menswaardigheid en ekonomiese stabiliteit. Volgens hom kan dit help om huishoudings ’n minimum vlak van sekuriteit te bied en plaaslike ekonomiese aktiwiteit te stimuleer.
Die regering het nog nie aangedui of en wanneer so ’n toelaag oorweeg sal word nie, terwyl die debat oor fiskale volhoubaarheid en maatskaplike ondersteuning voortduur.