AfriForum beplan om 1 Desember voortaan as ’n jaarlikse gedenkdag vir slagoffers van plaasmoorde en plaasaanvalle te gebruik.

Die organisasie sê die doel is om die mense wat hul lewens in dié geweld verloor het, te onthou, ondersteuning aan hul naasbestaandes te wys en terselfdertyd groter plaaslike en internasionale aandag op geweld in landelike gemeenskappe te vestig.

As deel van die herdenking word lede van die publiek gevra om op 1 Desember ’n klein wit kruisie op hul klere of ’n wit hemp te dra.

AfriForum se takke regoor die land sal ook om 12:00 vir ’n oomblik stil word. Ondersteuners in Suid-Afrika en ander lande word aangemoedig om op dieselfde tyd hul eie oomblik van stilte te hou of ’n plaaslike herdenkingsgeleentheid te reël.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, is 1 Desember gekies ter nagedagtenis aan die tweejarige Wilmien Potgieter.

Wilmien is op 1 Desember 2010 saam met haar ouers, Attie en Wilna, op hul plaas in die Vrystaat vermoor.

Broodryk sê haar dood en dié van ander slagoffers mag nie bloot tot statistieke gereduseer word nie.

“Hierdie dag gaan daaroor om hul name en lewens te onthou en om die werklikheid van plaasgeweld onder die aandag van Suid-Afrikaners én die internasionale gemeenskap te bring,” sê hy.

AfriForum sê agter elke plaasmoord is daar ’n mens, ’n gesin en ’n gemeenskap wat met die gevolge daarvan moet saamleef.

Die organisasie sê hy is ook besig om internasionale belanghebbendes, veral in die Verenigde State, by die inisiatief te betrek met die doel om groter internasionale bewusmaking oor plaasmoorde in Suid-Afrika te skep.