Geel, Oranje en Rooi waarskuwings van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) verskyn gereeld wanneer gevaarlike weer verwag word. Maar wat beteken die verskillende kleure en vlakke, en belangriker nog: Wat moet jy doen wanneer ’n waarskuwing vir jou gebied uitgereik word?
Die SAWD gebruik ’n impakgebaseerde waarskuwingstelsel. Die kleur dui die potensiële erns van die impak aan, terwyl die vlaknommer verband hou met die waarskynlikheid dat dié impak sal plaasvind.
’n Hoër vlak beteken dus nie bloot dat sterker wind of meer reën verwag word nie. Die waarskynlikheid dat die verwagte impak sal voorkom, speel ook ’n belangrike rol.
Geel Vlak 1 en 2: Berei voor
Wat beteken dit? Geel waarskuwings dui op moontlike geringe tot groot impakte, afhangend van die vlak en soort weergevaar. By die laer vlakke kan plaaslike skade en ontwrigting voorkom.
Wat moet jy doen? Beveilig los tuinmeubels, vullisdromme en ander voorwerpe. Maak seker deure, vensters en motorhuisdeure is behoorlik vas en vermy dit om voertuie onder groot of beskadigde bome te parkeer.
Motoriste, veral bestuurders van voertuie met hoë sye, moet versigtig wees op blootgestelde roetes. Hou ook die jongste waarskuwings dop.
Geel Vlak 3 en 4: Groter ontwrigting moontlik
Wat beteken dit? Die moontlike impak en/of waarskynlikheid daarvan het toegeneem. Skadelike wind kan byvoorbeeld bome laat omval, dakke en ander strukture beskadig en verkeer ontwrig.
Wat moet jy doen? Handel voorbereidings af voordat die ergste weer toeslaan. Vermy onnodige reise deur blootgestelde gebiede en beveilig voorwerpe wat kan wegwaai.
Mense in kwesbare strukture behoort vooraf ’n veiliger skuilplek te identifiseer. Vermy onnodige aktiwiteite op see wanneer gevaarlike wind en golwe voorspel word.
Oranje Vlak 5: Neem daadwerklik voorsorg
Wat beteken dit? Oranje Vlak 5 kan ’n medium waarskynlikheid van baie groot impakte aandui. Afhangend van die weergevaar kan oorstromings, skadelike wind, hael, weerlig, kragonderbrekings en padsluitings voorkom.
Wat moet jy doen? Heroorweeg onnodige reise en bly waar moontlik binnenshuis wanneer die ergste toestande voorkom.
Parkeer voertuie weg van bome en pale, laai selfone en hou flitse gereed vir moontlike kragonderbrekings. Indien jy móét reis, wees voorbereid op puin, omgevalle bome en moontlike padsluitings.
Oranje Vlak 6: Ernstige impakte meer waarskynlik
Wat beteken dit? Oranje Vlak 6 dui op ’n hoër waarskynlikheid van ernstige impakte. Groot verkeersontwrigting, skade aan infrastruktuur en gevaarlike toestande kan voorkom.
Wat moet jy doen? Jou voorbereidings behoort reeds afgehandel te wees. Vermy onnodige reise, bly tydens die ergste toestande binnenshuis en maak gereed vir moontlike krag- en verkeersontwrigting.
Volg enige ontruimings- of skuilinginstruksies van die owerhede. Wanneer gevaarlike kustoestande voorspel word, bly weg van strande, kranse en ander blootgestelde gebiede.
Kyk ook na kwesbare familielede en bure, asook mense wat in brose strukture woon.
Oranje Vlak 8 en 9: Ernstige impakte moontlik
Wat beteken dit? Die hoë nommer beteken nie bloot dat die weer noodwendig erger is nie. Die waarskynlikheid van die verwagte impak speel ook ’n rol.
Tydens die KwaZulu-Natalse vloede van April 2022 het ’n Vlak 8-waarskuwing ’n lae waarskynlikheid van ernstige impakte aangedui, terwyl die daaropvolgende Vlak 9-waarskuwing ’n medium waarskynlikheid van ernstige impakte aangedui het.
In die geval van swaar reën kan die impakte onder meer wydverspreide en gevaarlike oorstromings, pad- en brugsluitings, infrastruktuurskade en lewensgevaar insluit.
Wat moet jy doen? Bly binnenshuis tensy ontruiming of ander noodsaaklike beweging nodig is. Moet nooit deur vloedwater of oor ’n oorstroomde pad of brug probeer ry nie.
Hou medikasie, selfone, noodvoorrade en belangrike dokumente byderhand. Mense in vloedgevoelige gebiede moet gereed wees om na hoër grond te beweeg indien die owerhede dit aanbeveel.
Rooi Vlak 10: Behandel dit as ’n noodgeval
Wat beteken dit? Rooi is die ernstigste waarskuwingskleur. Vlak 10 dui op ’n hoë waarskynlikheid van ernstige impakte, met menselewens, eiendom en infrastruktuur wat bedreig kan word.
Wat moet jy doen? Behandel dit as ’n noodgeval. Bly binnenshuis of beweeg na ’n aangewese veilige plek en moenie reis nie, tensy dit nodig is om onmiddellike gevaar te ontvlug of die owerhede anders opdrag gee.
Ontruim onmiddellik indien dit beveel word. Bly weg van riviere, strome, damme, vloedwater, beskadigde geboue, stukkende kraglyne en omgevalle bome.
Maklike reël om te onthou
Geel: Gevaar en ontwrigting is moontlik — berei voor en bly waaksaam.
Oranje: Groot tot ernstige impakte is moontlik — tree op en vermy onnodige risiko’s.
Rooi: Ernstige impakte word verwag — behandel dit as ’n noodgeval en volg amptelike instruksies.