Meningstuk deur DwarsDoring
“Vertrou ons.”
Dít is uiteindelik wat die regering van Suid-Afrikaners vra wanneer dit by die Onteieningswet kom. Moenie bekommer nie. Daar is prosesse. Daar is waarborge. Daar is howe.
Net een lastige probleempie: vertroue word verdien en die Suid-Afrikaanse regering se kredietrekening is lankal oortrokke.
Cyril Ramaphosa het die Onteieningswet in Januarie 2025 onderteken. Die wet maak voorsiening daarvoor dat nul vergoeding in bepaalde omstandighede as regverdig en billik beskou kan word wanneer grond onteien word. Die wet is nog nie in werking nie; die aanvangsdatum moet nog geproklameer word.
Maar reeds baklei die regering daaroor met homself.
Die DA, die tweede grootste party in die Regering van Nasionale Eenheid, staan saam met ander organisasies in die hof en betwis die wet, terwyl Ramaphosa en staatsinstellings dit verdedig.
As dít eenheid is, wil ’n mens nie graag verdeeldheid sien nie.
Die ANC het meer as drie dekades gehad om te bewys hoe verantwoordelik staatsmag bestuur kan word.
Vandag is die amptelike werkloosheidskoers 33,6%. Van Suid-Afrika se 257 munisipaliteite het net 39 in 2024/25 skoon oudits ontvang.
En kyk ’n mens na grondhervorming self, raak die grap besonder flou.
Die Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het vanjaar aan die Parlement erken dat swak beheer, administratiewe probleme en gebrekkige toesig voortduur. Daar is onder meer R137 miljoen se vrugtelose en verkwistende uitgawes gerapporteer, terwyl ou grondeise steeds sloer en staatsgrond gebrekkig bestuur word.
Maar nou moet Jan Publiek rustig slaap wanneer dieselfde staat groter invloed oor private eiendom kry?
Die RNE verander nie daardie rekord met ’n nuwe naamplaatjie op die deur nie. Ramaphosa het self gesê dat die RNE kollektief verantwoordelik is vir sy suksesse én sy tekortkominge.
Mooi. Dan kan almal rondom die kabinetstafel saam verantwoordelikheid neem.
Eiendomsreg is nie ’n klein politieke speelbal nie. Dit raak plase, ondernemings, huise, belegging, krediet en die bereidwilligheid van gewone mense om vir die lang termyn in hierdie land te bou.
Dus, Pretoria, voordat julle nóg vertroue vra:
Bewys eers dat julle die vertroue wat julle reeds gehad het, waardig was.